INANDA, KZN. – Die vuurwapen van ’n polisieman wat gister in ’n motorongeluk in Inanda oorlede is, is op die toneel gesteel.
Lees ook: DA rou oor dood van UIM-president Neil de Beer
Lede van Reaksie-eenheid SA (Rusa) het op die ongeluk gereageer en het twee voertuie gevind wat gebots het terwyl hulle in teenoorgestelde rigtings gery het. ’n Polisieman in volle polisie-uniform is dood in sy voertuig aangetref. Die insittendes van die tweede voertuig is beseer.
Die Rusa-lede het uitgevind daar was ’n samedromming van ‘n skare mense om die voertuie voor hulle op die toneel gekom het. Twee Pakistani’s is gesien waar hulle by die polisieman se voertuig inbuk en toe na ’n wit VW Caddy wegloop. Die vermoede is dat die twee persone die vuurwapen gesteel het. Dit is onbekend of hulle nog op die toneel was toe Rusa-lede daar aangekom het.
Speurders ondersoek die diefstal van die vuurwapen.
Bron: RUSA





