MPUMALANGA. – ‘n Laboratorium vir die vervaardiging van kristalametamfetamien (ook bekend as tik), met ‘n geskatte waarde van R350 miljoen, is Vrydag op ‘n plaas in Volksrust afgebreek. Vyf buitelanders, onder meer van Noord-Amerika, is in hegtenis geneem.
Kol. FP Maphanga, polisiewoordvoerder, sê in ’n verklaring die polisie het vinnig opgetree ná ’n wenk oor verdagte aktiwiteite op ’n plaas in Oudehoutkloof, Volksrust. Die inligting is as deel van Operasie Shanela 2 geoperasionaliseer. ’n Multidissiplinêre span, insluitend die departement van binnelandse sake, is na die plaas, waar die hek gesluit was.
Die verdagtes het aanvanklik probeer vlug, maar is vasgetrek. Vyf buitelandse burgers afkomstig uit ’n Noord-Amerikaanse land is vasgetrek, terwyl nog twee verdagtes, glo uit Wes-Afrika, gevlug het en steeds soek is.
Tydens ’n deursoeking is groot hoeveelhede chemikalieë, toerusting vir dwelmvervaardiging en kristalametamfetamien (crystal meth), geberg in koshouers en emmers, in vrieskaste gekry. ’n Windbuks met ammunisie en drie lewendige 9 mm-patrone is in die besit van die plaasopsigter gevind. Die toneel is beveilig en vir verdere ondersoek aan die Valke oorhandig.
Voorlopige ondersoek dui aan dat die vyf gearresteerde buitelanders onwettig in die land is. Hulle word deur aanklagte wat verband hou met die wet op dwelms en dwelmhandel, sowel as die immigrasiewet, in die gesig gestaar. Die plaasopsigter, ’n Suid-Afrikaanse burger, is ook in hegtenis geneem en is vir die onwettige besit van ammunisie aangekla.
Al ses verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.





