GAUTENG. – Frans Jooste (63) sal weer op 29 September vir ‘n formele borgtogaansoek op ‘n aanklag van moord in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn. Hy word daarvan beskuldig dat hy George Turner, sy huurder, ná ‘n beweerde gewelddadige huishoudelike rusie tussen Turner en sy vrou doodgeskiet het.
Kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die voorval het op plot 90, Vissershoek, Akasia plaasgevind. Turner en sy vrou het ‘n kamer op die perseel gehuur.
Die polisie het op die betrokke dag kort voor 14:00 ‘n klagte van moord ontvang. Met aankoms by die adres het hulle die liggaam van Turner op die grond aangetref. Hy het ‘n skietwond in die maag gehad en is op die toneel dood verklaar.
Die oorledene se vrou het aan ondersoekbeamptes vertel dat sy en haar man glo die vorige nag ‘n hewige rusie gehad het, waartydens hy haar aangerand en toe die huis verlaat het. Turner het later teruggekeer en probeer om die gesluite hek met geweld oop te kry. Jooste het hom glo probeer kalmeer, maar die situasie het vererger en ‘n skoot is geskiet wat Turner noodlottig getref het.
Jooste het in die huis geskuil en geweier om saam te werk. Gyselaaronderhandelaars is ontbied en die situasie is uiteindelik ontlont toe Jooste homself oorgegee het. Hy is in hegtenis geneem.
Van Dyk sê tydens deursoeking van die woning is verskeie vuurwapens gevind.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, het uitstel van die saak aan Nuusflits bevestig.
Volgens ‘n berig in die Kormorant is Jooste ‘n voormalige weermagkolonel en betrokke by die kommando.





