AfriForum het Woensdag tydelik ’n hofskikking agter geslote deure tussen Eskom en Nersa gestuit, wat verbruikers oor drie jaar sowat R54 miljard deur ’n jaarlikse 9%-kragtariefverhoging sou kos.
Die organisasie sê die skikking is onregmatig en onredelik en kragverbruikers moenie blindelings betaal nie. Ná AfriForum se ingryping het Eskom ingestem om die saak van die onbestrede na die bestrede rol oor te plaas, sodat AfriForum en ander belanghebbendes kan toetree.
Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir plaaslike regeringsake, bestempel die kragreus se antwoord as kortsigtig, aangesien die publiek direk deur hierdie ooreengekome verhoging geraak gaan word. “Om aan te voer dat die publiek, wat die besluit moet befonds, nie ’n belang in die saak het nie, wys Eskom se blatante arrogansie. Kragverbruikers kan dit nie langer net duld en blindelings befonds nie.” AfriForum sê deursigtigheid en verantwoordelike optrede van Eskom en Nersa is noodsaaklik om te verseker dat die publiek regverdige tariewe betaal.
Volgens ‘n verslag deur Moneyweb het Eskom in ‘n brief aan AfriForum aangedui dat hulle nie die reg het om in te meng nie en dat die publiek nie ‘n vetoreg het nie. Met oorplasing na die bestrede rol word AfriForum en ander belanghebbendes in staat gestel om in die saak toe te tree. Nersa het die fout erken en aangedui dat die betrokke werknemer gesanksioneer is. Die reguleerder het ook ‘n openbare verklaring uitgereik waarin hulle die situasie as “betreurenswaardig” beskryf het, maar geen verdere besonderhede oor die skikking of die betrokke proses gegee nie.
Druk hier om die AfriFroum-verklaring te lees.
Bronne: AfriForum en Moneyweb





