NOORDWES. – Malandela George Mbela (48) is in aanhouding totdat hy Woensdag vir ‘n tweede keer in die Potchefstroom-landdroshof sal verskyn. Daar word beweer die voormalige plaaswerker het op 12 Oktober ‘n boer (70), sy vrou (68) en hulle dogter (34) op hul plaas langs die R500 (Parys/Fochville) in die Buffelshoek-gebied beroof.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring Mbela is op 13 Oktober in hegtenis geneem, nadat hy hom aan die polisie oorgegee het. Hy het Woensdag vir die eerste keer in die hof voorgekom. Daar word beweer dat Mbela die boer se vrou en dogter die betrokke Sondagoggend in ’n stoorkamer oorweldig het. Hy het hulle na bewering aangerand en in die stoorkamer toegesluit, waarna hy na die plaashuis is waar hy die boer aangerand het.
Hy het daarna met die egpaar se Toyota Hilux-bakkie van die toneel gevlug. Naburige boere is gewaarsku en die polisie gekontak nadat die vrou kort daarna uit die stoorkamer kon ontsnap. Die Hilux is later in Parys gesien, maar die verdagte het dit agtergelaat en te voet gevlug.
Die drie slagoffers is na ’n nabygeleë hospitaal geneem en die boer die volgende dag ontslaan.





