GAUTENG. – Sewe buitelanders is Vrydag in Benoni in hegtenis geneem nadat gesteelde goedere ter waarde van sowat R1,2 miljoen en ’n sleepwa glo by hulle gevind is.
Volgens ‘n sosialemediaplasing van die Ekurhuleni Metropolisie (EMPD) het dié diens saam met die polisie se misdaadintelligensie en ander rolspelers inligting van die kaping van ‘n vragmotor opgevolg. Beamptes het by ’n perseel in Gwendeleonstraat in die Petit-gebied opgedaag, waar die verdagtes besig was om die vrag uit te laai. Tydens die ondersoek is ook ander gesteelde goedere gevind wat verband hou met ’n insident verlede maand by Dawn Park.
Die sewe verdagtes is na die Crystal Park-polisiekantoor geneem en word van die besit van ’n gekaapte voertuig, besit van gesteelde goedere en oortreding van die immigrasiewet aangekla. Hulle sal binnekort in die Benoni-landdroshof verskyn.





