WES-KAAP. – Die polisie in die Wes-Kaap het ’n moordondersoek van stapel gestuur nadat die liggame van drie onbekende mans Saterdag omstreeks 17:30 in die Siqualo- informele nedersetting in Weltevredenweg, Philippi, gevind is. Die mans is aan die brand gesteek en vroeë bevindings dui daarop dat die voorval moontlik verband hou met ’n beweerde vigilante aanval.
Die SAPD sê alle vorme van vigilantisme of sogenaamde “mob justice” word veroordeel en beklemtoon dat dit ’n ernstige misdaad is wat veiligheid en stabiliteit in gemeenskappe verder in gevaar stel. Daar word gewaarsku dat geen persoon of groep die reg het om die wet in eie hande te neem nie; sulke optrede ondermyn die regsproses en skep nog meer geweld.
Speurders werk aan verskeie leidrade om die slagoffers te identifiseer en die verantwoordelike persone op te spoor. Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om dadelik die polisie te kontak.
Bron: SAPD




