VF Plus – oproep vir optrede geïgnoreer voordat vrou op kruising doodgesteek is

Lees ook :

Foto: Karin van Aardt Facebook

WES-KAAP. – Dr. Corné Mulder van die VF Plus het Vrydag se moord op ‘n geliefde eggenoot, ma en ouma ten sterkste veroordeel en optrede geëis. Die party sê vorige oproepe vir herstel van gebreekte snelwegomheinings, werkende CCTV‑kameras en permanente patrollies is geïgnoreer. Karin van Aardt (64) is Vrydag laatmiddag doodgesteek, kort nadat sy en Herman, haar man, op Kaapstad Internasionale Lughawe aangekom en in ‘n huurmotor vertrek het.

Mulder waarsku oor die hoë misdaadvlakke rondom die lughawe. Volgens die VF Plus moet alle rolspelers saamwerk om verdere aanvalle te voorkom en burgers te beskerm. Druk hier om meer te lees.

Volgens sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het die man en vrou in die verkeer gesit toe ‘n verdagte by die kruising van Jakkalsvlei- en Jakes Gerwel-rylaan in Bonteheuwel die passasiersvenster van die motor gebreek het. Hy het die vrou met ‘n skerp voorwerp gesteek en probeer om haar handsak te steel. Van Aardt het borswonde opgedoen en is na ‘n hospitaal in Kaapstad geneem, maar is later aan haar beserings oorlede.

Goodwood-polisiekantoor ondersoek die moordsaak. Die aanvaller het ná die aanval die toneel ontvlug en tot dusver is geen arrestasie bevestig nie.

Die Primêre Skool Universitas – Tjokkies – in Bloemfontein het hul oudonderwyseres se afsterwe op sosiale media betreur: “Dit is met groot hartseer dat ons die afsterwe van ons geliefde oudkollega, juf. Karin van Aardt, deel. Sy was ’n lig en ’n vreugde vir almal rondom haar, en haar afwesigheid sal diep gevoel word. Ons dink in besonder aan haar familie en geliefdes in hierdie moeilike tyd. Mag julle troos vind in kosbare herinneringe.”

André Snyman van eblockwatch sê die plek waar Van Aardt gesteek is, is net sewe minute van die lughawe, terwyl sy op pad was om haar kleinkind te sien. Die plek is ’n bekende misdaad‑brandpunt, volgens veiligheidskenners en plaaslike bronne. Snyman beveel ‘n diens soos Cyber Chaperone aan vir persone wat reis. WhatsApp word gebruik om reisroetes aan te dui en veiligheidadvies word gegee indien ‘n situasie dit vereis. Meer inligting kan by hierdie skakel verkry word. www.eblockwatch.co.za

Nuusflits het die Stad Kaapstad vir kommentaar gevra.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief