GAUTENG. – Die skoolhoof van Samit Christian Academy, ’n onafhanklike skool in Kempton Park, is Sondagoggend tydens ‘n beweerde huisroof in Maokeng-uitbreiding in Tembisa dood.
Steve Mabona, woordvoerder vir die Gautengse departement van onderwys, sê in ‘n verklaring Matome Chiloane, die LUR vir dié departement, het bevestig dat die oorledene noodlottig tydens die voorval beseer is. Volgens die polisie hou die voorval verband met ’n huisroof en ’n verdagte is reeds in hegtenis geneem. Chiloane het voorts gesê die departement verwelkom die vinnige optrede van die polisie en het ’n deeglike ondersoek versoek om seker te maak dat alle betrokkenes voor die hof gebring word.
“Die verlies van nóg ’n skoolhoof aan geweldsmisdaad is ontstellend en kommerwekkend,” sê Chiloane. Die departement het sy medelye aan die familie, die skoolgemeenskap en kollegas van die oorledene betuig.





