GAUTENG. – Die Pretoria-hooggeregshof het Woensdag 17 Desember ten gunste van die Sinoville Firefighting Association (SFFA/SBBV) beslis in ’n saak wat deur die Stad Tshwane aanhangig gemaak is oor die beweerde onwettigheid van private brandbestrydingsdienste.
Die hof het Tshwane se aansoek van 26 November 2025 van die hand gewys en die stad gelas om alle regskoste te betaal, insluitend dié van die SFFA en ander betrokke partye. In sy uitspraak het die hof bevestig dat private brandbestrydingsdienste wettig is en dat die Sinoville-brandbestryders kan voortgaan om as vrywilligers te funksioneer, wat die gemeenskap tydens brande en noodsituasies bystaan.
Die uitspraak onderstreep die kritieke rol van vrywillige brandbestrydingsdienste, veral in gebiede waar munisipale kapasiteit beperk is, en word gesien as ’n belangrike oorwinning vir gemeenskapsveiligheid.
Die Stad Tshwane het op 30 Junie ‘n verklaring uitgereik en gesê dat privaat brandbestrydingsdienste binne sy jurisdiksie sonder formele goedkeuring en regulering onwettig is. Volgens die stad val brandbestryding onder munisipale mandaat en enige privaat diens mag slegs optree ná ’n formele aanstelling of goedkeuring deur die provinsiale gesag. Tshwane het ook beklemtoon dat onbevoegde optrede deur privaat dienste die noodstrukture kan ondermyn.
Rdl. Grandi Theunissen van die VF Plus sê in ‘n verklaring die hofuitspraak is ‘n klinkklare oorwinning vir gemeenskapsveiligheid en gesonde verstand. Private entiteite en vrywillige verenigings kan voortgaan om lewens en eiendom te beskerm. Theunissen sê die uitspraak kom te midde van beperkings en wanfunksionaliteit by munisipale brandweerdienste, wat inwoners en kritieke infrastruktuur in gevaar stel. Druk hier om meer te lees.
Nuusflits het die Stad Tshwane vir kommentaar gevra.
Bronne: SFFA/SBBV en VF Plus





