WES-KAAP. – Oliver Cooke (16) is op 18 Desember oorlede nadat hy tydens ’n staptog van ’n krans in Natures Valley – Bull Se Baai – in die Garden Route Nasionale Park – in die see geval het. Anne Siroky, Cooke se voormalige vlugbalafrigter het sy afsterwe op sosiale media betreur.
“Vader God, dit is so, so hartseer om totsiens te sê aan een van ons St George’s-skoolleerders, Oliver Cooke. Beide afrigter Jillian Alexander en ekself het hom afgerig, en ek was sy vlugbalafrigter. Om van hom afskeid te neem, is net nie reg op sy jong ouderdom van 16 nie, hy is geroep om te rus… Hy het van die lewe gehou en sou nie opgee totdat hy ’n vaardigheid perfek bemeester het nie… Al het hy nie voortgegaan met vlugbal nadat ons vertrek het nie, sal Oliver altyd in ons harte wees… Te vroeg weg… Aan St George’s-skool, die skoolhoof, opvoeders en leerders, en aan Oliver se familie, ons innige meegevoel… Rus in vrede, jong man.”
Craig Lambinon van die NSRI sê volgens Ross Badenhorst, adjunk-stasiebevelvoerder van NSRI-Plettenbergbaai, is die diensspan kort voor 11:00 geaktiveer en alle rolspelers op bystand geplaas. Twee NSRI-bote is gelanseer, terwyl ’n privaat boot met NSRI-personeel aan boord in die gebied ook gereageer het. Met aankoms is ’n soektog begin vir die tiener wat van ’n krans in die see geval het.
NSRI-reddingsduikers het met kundigheid die see trotseer en is die sogenaamde Ouma-en-Oupa-grotte in, waar die tiener met beserings en sonder reaksie aangetref is. Ondanks die gevaarlike seetoestande met groot branders en stygende gety is die liggaam met ‘n drywende draagbaar na ‘n reddingsboot geneem.
Die liggaam is na die NSRI-Plettenbergbaai-stasie geneem en aan die polisie en die forensiese patalogiese dienste van die regering oorhandig. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen.






