LIMPOPO. – ‘n Meisie (6) se liggaam is Vrydag drywend in ‘n puttoilet in Nkuzana gekry. Die Hlanganani-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.
Luidens ‘n verklaring van kol. Malesela Ledwaba het die meisie saam met ander kinders buite die erf gespeel, toe sy skielik verdwyn het. Haar ma het opgemerk dat die kind weg is, waarna ’n soektog van stapel gestuur is. Die kind is later drywend in die puttoilet gevind. Sy is uit die put gehaal en na ’n mediese gesondheidsentrum geneem, waar sy met aankoms dood verklaar is.
Polisie-ondersoeke duur voort. Terselfdertyd word ouers gemaan om seker te maak dat hulle ten alle tye weet waar hulle kinders hulle bevind.





