GAUTENG. – Christenne Meyer (23) is op 5 Januarie oorlede, nadat sy glo komplikasies ontwikkel het ná ’n tuisgeboorte. Met ‘n paar weke oue babadogter is dié familie van Pretoria nou besig om ‘n begrafnis te reël.
Alicia Meyer het oor haar suster se afsterwe in ’n emosionele huldeblyk gesê die familie se harte het die middag gebreek toe Christenne oorlede is. Volgens haar sal Christenne se nalatenskap voortleef in herinneringe, liefde en die lewens wat sy geraak het. Sy het ook die publiek bedank vir hul ondersteuning en gevra dat die familie, en veral Christenne se baba, in mense se gedagtes gehou word.
‘n Anonieme bron, sê Christenne het op 22 Desember 2025 tuis geboorte geskenk. Enkele dae later het Christenne se gesondheid vinnig verswak, waarna sy op Kersdag met septisemie in ’n hospitaal-waakeenheid opgeneem is. Sy is vir nege dae behandel en is met ernstige infeksie en veelvuldige orgaanversaking gediagnoseer. Sy moes onder meer ’n histerektomie ondergaan en is op lewensondersteuning geplaas. Die familie is vroegoggend op 5 Januarie na die hospitaal ontbied, waar hulle meegedeel is dat Christenne breindood verklaar is. Lewensondersteuning is daarna gestaak en sy is later dieselfde middag oorlede.
Christenne Meyer laat haar ouers, familie en ’n baba van net oor die twee weke oud, haar eerste kind, agter. Huldeblyke stroom steeds op sosiale media in, waar mense haar onthou as ’n jong vrou wie se lewe te vroeg beëindig is.
Alicia Meyer het gesê: “05/01/2026, om 14:28, het ons harte gebreek op ’n manier wat geen woorde ooit volkome sal kan beskryf nie. My pragtige suster het haar vlerke gekry en is nou ons engel.
Sy het so dapper geveg en so diep liefgehad. Selfs in haar moeilikste oomblikke het haar krag, goedhartigheid en lig nooit verdwyn nie. Daardie lig sal vir altyd in elkeen van ons voortleef. Ons vind troos daarin om te weet dat sy nou veilig is, in vrede, en vasgehou word in die arms van die hemel – vry van pyn en besig om met liefde oor ons te waak. Al is sy nie meer fisies by ons nie, sal sy altyd by ons wees in gees, in herinneringe, in lag, en in elke stil oomblik waarin ons haar teenwoordigheid voel. Dankie aan almal vir die liefde, gebede en ondersteuning gedurende hierdie ondenkbaar moeilike tyd. Hou asseblief ons familie, en veral haar kosbare baba, in julle gedagtes terwyl ons leer om hierdie verlies te dra en haar mooi lewe te eer.
Ons sal jou vir altyd liefhê. Tot ons mekaar weer sien.”





