AUSTRALIë: – ’n Seun (13) is Sondagmiddag kritiek beseer nadat ’n haai hom ná 16:00 by Shark Beach naby Nielsen Park in Sydney-hawe, Australië, aangeval en aan die bene gebyt het. Dit is die tweede insident binne ‘n week in dié omgewing.
Volgens die New South Wales-polisie is die seun binne minute ná die aanval deur sy vriende uit die water gehaal. Waterpolisiebeamptes het mediese toernikette vasgemaak en noodhulp aan boord van ‘n polisieboot toegepas. Die seun is daarna na Rose Bay geneem is, waar paramedici hom verder behandel het voordat hy in ’n kritieke toestand na die Sydney-kinderhospitaal in Randwick vervoer is. Volgens berigte het die toernikette en onmiddellike KPR-toepassing in alle waarskynlik die seun se lewe gered.
Polisie het gesê dat sy beserings ooreenstem met dié van ’n aanval deur ’n groot haai. Die strand is gesluit en swemmers is aangeraai om nie in die water te gaan nie, terwyl kenners probeer vasstel watter haai vir die aanval betrokke was.
In ‘n afsonderlike voorval in dié land het ‘n 11-jarige seun verlede Maandag ongeskaad van ‘n haai-aanval in Dee Why ontsnap, terwyl sy branderplank bytmerke gehad het.
Bronne: African News Agency, SBS Australia, The Guardian





