MPUMALANGA. – Die Witbank-polisie ondersoek ‘n voorval waartydens Bongani Madonsela (39), ’n Eskom-werknemer, Woensdagmiddag omstreeks 17:00 by die kruising van die R547 en D455 by Rietspruit naby Witbank doodgeskiet en sy vrou ernstig beseer is.
Luidens ‘n verklaring van polisiewoordvoerder, lt.kol. Jabu Ndubane, is ’n silwerkleurige bakkie, oortrek met koeëlgate, in die middel van die pad aangetref. Madonsela, die bestuurder van die bakkie, is met skietwonde in die bolyf in die bakkie gevind en is op die toneel dood verklaar. Die vroulike passasier, wat ook geskiet is, is deur paramedici behandel en na ’n hospitaal vervoer.
Voorlopige ondersoek dui daarop dat die twee van hulle werk by Kriel-kragstasie huis toe onderweg was toe hulle aangeval is. Albei slagoffers was Eskom-werknemers.15 leë patroondoppies is op die toneel gevind.
Die polisie ondersoek ’n saak van moord en poging tot moord. Enigiemand met relevante inligting kan speur.sers. Desmond Kgwedi by 076 509 6073 bel.






