WES-KAAP. – ‘n Troosdiens is Sondag gehou vir Matthew Cheswin Baartman (8), in gr. 3 in Laerskool Klapmuts, wat Vrydagoggend op die skoolterrein gesterf het. Die presiese oorsaak van sy dood is nog nie bevestig nie, aangesien omvattende ondersoeke tans deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement en ander owerhede gedoen word.
Mnr. L Hoffman, die skoolhoof van Laerskool Klapmuts, het in ‘n verklaring gesê die skoolgemeenskap is diep geraak deur die tragiese afsterwe van Matthew. Meegevoel is teenoor sy familie, klasmaats en vriende uitgespreek. Die skool versoek dat spekulasie en ongeverifieerde inligting vermy word, en fokus geplaas word op ondersteuning van die familie en gemeenskap tydens hierdie moeilike tyd.
Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê die jong seun was voor 08:00 by ’n voorval betrokke, waarna hy na ’n gesondheidsfasiliteit vervoer en dood verklaar is. Die omstandighede rondom Matthew se dood is steeds onduidelik en die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen. ’n Nadoodse ondersoek sal ook uitgevoer word om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.
Terwyl berigte op sosiale media bewerings maak oor wat tot die voorval gelei het, het die Wes‑Kaapse departement van onderwys en die polisie die publiek versoek om nie te spekuleer voordat die formele ondersoek voltooi is nie. Hierdie bewerings sluit in dat Matthew moontlik aan ’n elektriese verbinding geraak het, maar dit is nog nie amptelik bevestig nie. Die departement het ook ondersteuning ingestel vir personeel en leerders wat deur die voorval getraumatiseer is. Lede van die plaaslike gemeenskap het ook kommer uitgespreek oor skoolveiligheid en geëis dat die ondersoek duidelike antwoorde moet oplewer.
“Ons betuig ons innige meegevoel aan die familie en skool van ’n leerling wat Vrydagoggend oorlede is. Ons distrikspan bied tans ondersteuning aan die skool. Ons het kennis geneem van spekulasie op sosiale media dat ’n elektriese verbinding betrokke was. Die skool het leerlinge ná die voorval huis toe laat gaan en ’n assesseringspan, insluitend ’n elektriese kontrakteur, was Vrydagmiddag op die terrein om die bewering van lewendige drade of elektriese verbindings te ondersoek. Geen bewyse kon gevind word om die bewering te staaf nie. Die skool het Maandag met volle bywoning heropen. Ons doen ’n beroep op die publiek om nie onbevestigde inligting en gerugte te versprei nie. Die SAPD doen tans ’n ondersoek wat ook die oorsaak van dood sal insluit, en ons sal hulle volle ondersteuning bied,” het Kerry Mauchline, woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwys-MEC David Maynier, gesê. (Van Engels vertaal)
Lees die skoolhoof se volledige verklaring hier onder:
Geagte Ouers en Klapmuts Gemeenskap
Ons skoolgemeenskap is diep geraak met die tragiese afsterwe van een van ons Graad 3-leerders, Matthew Baartman, na aanleiding van ’n voorval wat by die skool plaasgevind het.
Namens die bestuur, personeel en hele skoolgemeenskap wil ons ons opregte, diepste en innigste meegevoel betuig aan Matthew se ouers, familie, geliefdes, klasmaats en vriende. Ons gedagtes en gebede is met die familie in hierdie uiters pynlike en moeilike tyd. Ons doen ’n ernstige beroep dat die familie met waardigheid, respek en deernis behandel word terwyl hulle oor die verlies van hul geliefde kind treur.
Op hierdie stadium kan die presiese oorsaak van die voorval nog nie bevestig word nie, aangesien omvattende ondersoeke tans aan die gang is. Verskeie rolspelers is hierby betrokke, insluitend die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), asook ander relevante owerhede. Dit is van kardinale belang dat hierdie prosesse toegelaat word om hul volle verloop te neem sodat die feite deeglik en verantwoordelik vasgestel kan word.
Ons versoek verder ook vriendelik, maar dringend, dat ouers en lede van die gemeenskap hul daarvan sal weerhou om spekulasies en/of ongeverifieerde inligting te deel of te versprei op sosiale media platforms, aangesien dit verdere emosionele skade veroorsaak en uiters oneerbiedig teenoor die familie is. Ons fokus behoort tans te wees op die verlies van ’n jong lewe en om mekaar in hierdie tyd te ondersteun.
Van die skool se kant af is alle voorgeskrewe protokolle onmiddellik in werking gestel, insluitend:
• Die rapportering van die voorval aan Veilige Skole en die WKOD Hoofkantoor.
• Die inskakeling van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling vir ondersteuning aan die betrokke familie, leerders en personeel.
• Die ontplooiing van die WKOD Distriksondersteuningspan, insluitend maatskaplike werkers, sielkundiges en die kringbestuurder.
• Die aanstelling van onafhanklike kontrakteurs, asook die WKOD se Infrastruktuur- en beplanningsdirektoraat, om die veiligheid van die skoolperseel deeglik te assesseer.
Na ’n volledige en deeglike ondersoek is dit laat gisteraand bevestig dat die skoolperseel veilig verklaar is vir alle leerders en personeel. Noodsaaklike voorsorgmaatreëls is ingestel, veral in die betrokke area, om die veiligheid van almal op die terrein te verseker.
Ons wil ouers verseker dat die skool ten volle saamwerk met alle relevante owerhede terwyl die ondersoeke voortduur. Totdat hierdie prosesse afgehandel is en amptelike bevindings bekend gemaak word, is die skool nie in ’n posisie om verdere besonderhede te bevestig nie, en ons versoek dat spekulasie vermy word.
Ons dank u vir u begrip, samewerking en deernis gedurende hierdie uiters moeilike tyd.
Mag God vertroosting en vrede aan die Baartman-familie skenk, en krag en eenheid aan ons hele skoolgemeenskap.
Vriendelike groete
Mnr. L. Hoffmann
Skoolhoof
Bronne: SAPD, Laerskool Klapmuts, Cape Argus, Daily Voice






