GAUTENG. – Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het sterk standpunt ingeneem teen diskriminerende uitlatings wat teen ’n SAPD-woordvoerder in KwaZulu-Natal gerig is.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die polisie is bewus van ’n video-opname buite ’n polisiekantoor waarin ’n vrou ’n woordvoerder gekritiseer het omdat hy nie isiZulu gepraat het nie en na hom as ’n “kwerekwere” oftewel ‘n buitelander op ‘n neerhalende manier, verwys het. Volgens die polisie is kol. Robert Netshiunda in Limpopo gebore en getoë, met Tshivenda as sy huistaal, en sy diens in KwaZulu-Natal weerspieël die diversiteit in die organisasie.
Die polisie het beklemtoon dat diskriminasie op grond van taal, kultuur of ras onaanvaarbaar is en in stryd is met die grondwet. Die polisie het ’n beroep op gemeenskappe gedoen om respek, verdraagsaamheid en sosiale samehorigheid te bevorder.





