Saoedi-Arabië het stilweg sy dekades lange verbod op alkohol verslap en laat welgestelde buitelandse inwoners vir die eerste keer in 73 jaar toe om alkoholiese drank te koop.
Volgens die BBC is die diskrete beleidsverskuiwing gesentreer in Riaad se Diplomatieke Wyk. Dit dui op een van die ingrypendste hervormings tot dusver onder bewind van kroonprins Mohammed bin Salman. Ontleders meen dié stap kan die weg baan vir groter veranderinge, met die moontlikheid dat toegang in die toekoms ook na gewone toeriste uitgebrei kan word.
Die toegewing is vir bier, wyn en siders om in goedgekeurde plekke soos luukse hotels en plekke vir toeriste verkoop word. Dit is gedryf deur die voorbereidings vir Expo 2030 en die Fifa-wêreldbeker in 2034. Streng lisensiëring sal toegepas word deur opgeleide personeel wat toesig sal hou oor verspreiding volgens Saoedi-gebruike. Alkoholgebruik sal volgens The Economic Times nie toegelaat word in huise, winkels en oop ruimtes vir die publiek nie.
Bronne: BBC, The Economic Times, Times of India





