Die nasionale verbruikerskommissie (NVK) het ’n produkherroeping aangekondig vir sekere Buttanut-grondboontjiebotter-produkte, nadat hoër as wettig toelaatbare vlakke van aflatoksien daarin gevind is. Hierdie produkte voldoen nie aan die departement van gesondheid se regulasies vir gifstowwe in voedsel nie.
Die betrokke grondboontjiebotter-produkte is op 15 Januarie 2026 vervaardig en in onder meer in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap verkoop. Aflatoksien kan gesondheidsprobleme soos naarheid, braking en maagpyn veroorsaak.
Hardin Ratshisusu, die NVK se waarnemende kommissaris, het verbruikers aangeraai om die betrokke grondboontjiebotter-produkte onmiddellik te staak en dit na die winkel waar dit aangekoop is vir ’n volle terugbetaling terug te neem. Die kommissie ondersoek tans die omvang van die besmetting in die produkte en werk saam met die verskaffer.
Die NVK monitor die herroeping ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming. Kyk hier onder na inligting van geraakte produkte.







