INTERNASIONAAL. – Die gedwonge deportasie van Oekraïense kinders na Rusland is ’n misdaad teen die mensdom en ook ’n oorlogsmisdaad, is deur die Verenigde Nasies (VN) bevind.
Volgens die BBC het ’n nuwe verslag van die Onafhanklike Internasionale Kommissie van Ondersoek na Ukraïne bevind duisende kinders is uit besette gebiede van Ukraïne na Rusland gedeporteer. Die bevinding is dat Russiese owerhede “op die hoogste vlak” by die deportasies betrokke was. Die kommissie sê verder die “direkte betrokkenheid” van die Russiese president, Wladimir Poetin, was “van die begin af sigbaar”.
Oekraïense owerhede beweer dat byna 20 000 kinders onwettig na Rusland en Belarus geneem is. Die meeste van die kinders wat in die VN-verslag genoem word, het in die sogenaamde Donetsk- en Luhansk-“volksrepublieke” gewoon – Oekraïense streke wat deur Moskou onwettig geannekseer en onder beheer gehou word. 1 205 gevalle is tot dusver bevestig. Vier jaar later is sowat 80% van die kinders in die ondersoekte sake nog nie aan hul families terugbesorg nie.
Die verslag voeg by dat Moskou nie ’n stelsel ingestel het om die terugkeer van die kinders te vergemaklik nie. In plaas daarvan word daar gefokus op langtermynplasing van die kinders by Russiese families of instellings, terwyl familielede dikwels nie ingelig is oor wat met hul kinders gebeur het nie. Rusland ontken egter die beskuldigings dat kinders gedwonge uit Oekraïense gebiede verwyder is.
Die Internasionale Kriminele Hof het in 2023 ‘n lasbrief vir die arrestasie van Poetin uitgereik op aanklag van oorlogsmisdade, spesifiek vir die beweerde onwettige deportasie van Oekraïense kinders.
Die kwessie bly uiters sensitief in Oekraïne en is ’n kernpunt in onderhandelinge oor ’n moontlike vredesooreenkoms tussen Kijiv en Moskou.
Bronne: BBC, Le Monde





