LIMPOPO. – Twee meisies, onderskeidelik 3 en 5 jaar oud, het Saterdag in ‘n huisbrand omgekom terwyl hulle ouma na ‘n nabygeleë kruidenierswarewinkel is. Die Mankweng-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen ná die tragiese voorval omstreeks 15:30 in Tjatjaneng, Ga-Mothapo.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê voorlopige inligting dui daarop dat die kleinkinders in ’n agterkamer was toe die ouma die huis teen 14:00 verlaat het. Terwyl sy by die winkel was, het sy gehoor die agterkamer was aan die brand. Sy het haar onmiddellik teruggehaas en het gemeenskapslede aangetref wat probeer het om die brand te blus.
Die twee meisies is onherkenbaar verbrand op ‘n bed aangetref. Die oorsaak van die brand is nog onbekend; die ondersoek duur voort om die presiese oorsaak van die brand vas te stel.
Enigeen met relevante inligting word versoek om na vore te kom.





