Gerugte is “volkome onwaar” dat daar ‘n inhegtenisnemingsbevel teen lt.gen Nhlanhla Mkhwanazi uitgereik is.
Henry Mamothame, woordvoerder vir die NVG se Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie (IDAC), sê die organisasie is ontsteld oor sulke gerugte wat die ronde doen en dit word ten sterkste ontken. Hy sê dit is duidelik dat iemand hierdie vals inligting doelbewus versprei om IDAC se werk te belemmer en om Mkhwanazi se aandag van sy verantwoordelikhede in die stryd teen misdaad af te lei.
Mamothame waarsku die publiek om nie alles te glo wat op sosiale media versprei word nie, aangesien vals berigte daarop gemik is om vertroue in wetstoepassing te ondermyn.





