LIMPOPO. – Die oupa (55) en ouma (52) van die 2-jarige Omphile Sethole, wat sedert 2 Mei vermis is, is Vrydag op aanklagte van kinderverwaarlosing in hegtenis geneem. Nuusflits het voorheen berig die kleutermeisie is glo ontvoer terwyl haar ouma geslaap het. Haar kamervenster was oop.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die Mokopane Gesinsgeweld-, Kinderbeskermings- en Seksuele Misdrywe-eenheid (GKS) het die grootouers in hegtenis geneem. Die twee sal na verwagting vandag in die Mahwelereng-landdroshof verskyn. Die peuter het in die vroeë oggendure van 2 Mei uit die huis in Ga-Mabuela in die Tinmyne-polisiëringgebied verdwyn. Haar ouma het omstreeks 06:00 ontdek dat sy vermis is. Die polisie het aanvanklik sake van inbraak en ontvoering geopen. Die kind het ‘n pienk trui en swart kouse gedra.
Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris, het die inhegtenisnemings verwelkom en die gemeenskap dringend gevra om saam te werk. Sy het ook gewaarsku teen die verspreiding van foutiewe inligting oor die saak. Enigiemand met relevante inligting kan AO Chuene Selolo by 082 469 2594 bel. Die ondersoek duur voort.





