VRYSTAAT. – Twee mans is in minder as drie uur vasgetrek nadat ses gewapende mans glo Saterdag toegeslaan het waar veiligheidspersoneel besig was om geld by Cash and Carry in Welkom in te samel. Die polisie het op geld wat glo tydens die “cross-pavement’ roof gesteel is, beslag gelê.
Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het glo tydens die roof in 12de Straat in Voorspoed die veiligheidswagte gedwing om plat te lê en die geldwa oop laat maak. Die verdagtes het met ‘n onbekende bedrag geld, drie vuurwapens van die wagte, koëlvaste baadjies en ‘n handradio gevlug.
Misdaadinligting het vinnig gereageer en die taktiese responsspan sowel as die openbare orde polisiëring-eenheid gemobiliseer. Die roof het omstreeks 12:40 plaasgevind en teen omstreeks 15:00 het polisie die verdagtes by ‘n woning in Welkom opgespoor. ‘n Skietgeveg het uitgebreek en hoewel van die verdagtes daarin geslaag het om te ontsnap, is twee gesoekte “transitorowers” vagetrek. Die gesteelde banknote en ander bewysstukke wat met die roof verband hou, is ook tydens die operasie gevind en in beslag geneem.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort op aanklagte van gewapende roof, poging tot moord en besit van vermoedelik gesteelde eiendom in die hof verskyn. Die ondersoek en soektog na die ander verdagtes duur voort.






