WES-KAAP. – Vyf jong mense is vanoggend vroeg (Maandag) dood en nog een gewond nadat gewapende mans op ‘n huis in Gugulethu toegeslaan het.
Volgens die polisie ondersoek speurders van die provinsiale eenheid vir ernstige en gewelddadige misdaad vyf aanklagte van moord en een van poging tot moord. Die polisie is na ‘n woning in NY50 ontbied waar ses mense met skietwonde aangetref is. Vier mans en een vrou, tussen 19 en 23 jaar oud, is deur paramedici op die toneel dood verklaar. ‘n Vrou (20) wat ook geskiet is, is vir behandeling na ‘n hospitaal geneem.
Voorlopige ondersoeke dui daarop dat twee onbekende gewapende mans die voordeur oopgeskop en die huis binnegegaan het. Die verdagtes het na bewering ‘n vuurwapen geëis voordat hulle op die inwoners losgebrand het. Hulle het daarna van die toneel gevlug en is nog op vrye voet. Die motief vir die aanval is in hierdie stadium onbekend.
Bykomende polisiebeamptes is na die gebied ontplooi om verdere geweld te voorkom en die gemeenskap gerus te stel terwyl die ondersoek voortduur.
Bron: SAPD





