WES-KAAP. – ‘n Man en vrou is ernstig beseer nadat gewapende aanvallers hulle Vrydagaand op Neethlingshof-wynlandgoed naby Stellenbosch met koevoete aangerand en van vuurwapens beroof het.
Kapt. F.C. van Wyk, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, sê aan Nuusflits die aanval het Vrydag omstreeks 21:00 plaasgevind. Volgens die voorlopige ondersoek is die egpaar, die huiseienaars, deur drie onbekende mans oorval. Hulle is met koevoete aangerand voordat die sleutels van ‘n kluis geëis en vuurwapens gebuit is. Die aanvallers, wat klapmusse gedra het, het daarna in ‘n wit Toyota Corolla van die toneel gevlug en die egpaar ernstig beseer agtergelaat. Die beseerde slagoffers is na ‘n nabygeleë mediese fasiliteit geneem vir behandeling.
Van Wyk sê die ondersoek duur voort en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word gevra om na vore te kom.
Die aanval het groot kommer in die Vlottenburg-vallei ontlok. Vlottenburg Community Online NPC het ná die voorval op sosiale media gesê dit is die vierde plaasaanval in die vallei en dat soortgelyke aanvalle toenemend in die Kaapse Wynlande voorkom. Die organisasie het inwoners aangemoedig om enige verdagte optrede of persone onmiddellik by die polisie aan te meld.
Neethlingshof is een van Stellenbosch se bekendste geskiedkundige wynplase. Volgens kommentaar is die Suid-Afrikaanse rolprent Geheim van Nantes op dié landgoed geskiet. Hierdie agtergrondinligting het daartoe bygedra dat die aanval wye aandag op sosiale media geniet het.

| |





