LIMPOPO. – Twee verdagtes is deur die Valke in hegtenis geneem nadat ‘n ondersoek na beweerde bedrog en korrupsie met die uitreiking van laat geboortesertifikate by die departement van binnelandse sake in Malamulele afgehandel is.
Kol. Avele Fumba, Valke-woordvoerder, sê die ondersoek deur die ernstige korrupsiemisdaadeenheid in Musina spruit uit ‘n voorval wat na bewering op 10 Julie 2019 plaasgevind het. Die verdagtes, onderskeidelik 37 en 40 jaar oud, sal na verwagting vandag op aanklagte van bedrog en korrupsie in die plaaslike hof verskyn.
Volgens die ondersoek het ‘n amptenaar van binnelandse sake na bewering die uitreik van laat geboortesertifikate vir twee kinders goedgekeur sonder dat die voorgeskrewe wetlike prosesse gevolg is. Daar word ook beweer dat die amptenaar onregmatige vergoeding daarvoor ontvang het, hoewel die bedrag nog nie vasgestel is nie.
Die ondersoek het verder bevind dat een van die verdagtes glo sy niggie genader het om hom te help om geboortesertifikate vir sy twee biologiese kinders te bekom nadat hul ma, ‘n buitelandse burger, oorlede is. Die kinders sou na bewering die dokumente benodig om by ‘n skool ingeskryf te kon word. Die niggie het na bewering ‘n afskrif van haar identiteitsdokument voorsien, waarna die geboortesertifikate dieselfde dag uitgereik is. Sy is egter verkeerdelik as die kinders se ma op die dokumente aangedui. Die beweerde bedrog is blootgelê toe ‘n skoolbeampte, wat die kinders se toelating hanteer het, die onreëlmatigheid opgemerk en dit by die departement van binnelandse sake aangemeld het. Die saak is daarna vir verdere ondersoek na die Valke verwys.
Lasbriewe is vir drie verdagtes uitgereik. Twee is reeds in Musina en Tshikhudini (Muswodi) in hegtenis geneem, terwyl die derde verdagte nog opgespoor moet word.





