Man verdrink nadat boot omslaan

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

OOS-KAAP. – ‘n Man het Sondagoggend verdrink nadat hul boot by die mond van die Kowie-rivier in Port Alfred omgeslaan het. Sy kleinseun het die ongeluk oorleef.

Craig Lambinon, woordvoerder van die nasionale seereddingsinstituut (NSRI), sê reddingsdienste is omstreeks 08:20 ontbied ná ‘n berig dat ‘n opblaasboot met ‘n stewige romp (RHIB) by die riviermond omgeslaan het en twee mense in die water beland het. Reddingspanne, reddingswemmers, die polisie, Multi-Security, nooddienste van die Oos-Kaapse departement van gesondheid, Gardmed-ambulansdienste en Life First-paramedici het hulle na East Beach gehaas.

Met hul aankoms is die boot omgeslaan in die brandersone aangetref. ‘n Plaaslike man is uit die water gehaal en reddingswerkers het onmiddellik met lewensreddinpspogings begin. Ondanks volgehoue resussitasie kon sy lewe nie gered word nie en is hy op die toneel dood verklaar.

Die oorlewende – die oorledene se volwasse kleinseun van Gauteng – is op die strand gevind. Hy is vir mediese behandeling na ‘n plaaslike dokter geneem en sterk tans onder die sorg van sy familie aan. Volgens voorlopige inligting het die boot vermoedelik in sterk branders omgeslaan terwyl dit vanaf die Kowie-riviermond see toe wou vaar.

Die oorledene se liggaam is aan die polisie en forensiese patologiese dienste oorhandig. Die polisie ondersoek die voorval. Die NSRI het sy innige meegevoel met die familie en vriende van die oorledene betuig.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief