GAUTENG. – ‘n 47-jarige man van Boschkop het op ‘n aanklag van poging tot moord in die Pretoria-landdroshof verskyn nadat hy na bewering sy voormalige 38-jarige lewensmaat doelbewus met MIV besmet het.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê die paartjie was na bewering tussen Oktober 2025 en Junie 2026 in ‘n verhouding. Die man het glo aan die klaagster gesê dat hy MIV-negatief is. Op 26 Junie 2026 het sy na bewering antiretrovirale medikasie (ARV’s) in sy sak gevind en hom daaroor gekonfronteer. Die man het toe na bewering erken dat hy MIV-positief is en gesê hy het haar doelbewus besmet, omdat hy nie wou hê sy moes by iemand anders wees nie.
Die klaagster het op 25 Julie 2026 ‘n MIV-toets by ‘n mediese fasiliteit ondergaan en positief getoets. Sy het die voorval die volgende dag by die polisie aangemeld, waarna die man by hul woning in hegtenis geneem is.
Die saak is vir die verkryging van borgtoginligting tot 3 Augustus 2026 uitgestel. Die beskuldigde bly in aanhouding.





