VRYSTAAT. – Twaalf mense is dood en 66 beseer nadat ’n bus Donderdagaand op die N1, sowat 24 kilometer noord van Trompsburg in die rigting van Edenburg, omgeslaan het.
Die Vrystaatse departement van gesondheid sê die bus het kort ná 21:30 omgeslaan. Die voertuig het op die N1 tot stilstand gekom en die pad versper. Nooddienste en wetstoepassers is na die toneel ontbied, waar beseerdes behandel en uit die bus bevry is.
Aanvanklike inligting het aangedui dat 14 beseerdes buite die bus was, terwyl ’n kind se hand onder die voertuig vasgekeer was. Die departement het later bevestig dat 12 mense, onder wie kinders en volwassenes, dood is. Die geslag en identiteit van die oorledenes kon in daardie stadium nog nie volledig vasgestel word nie.
‘n Ondersoekspan van die padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) is intussen na die toneel gestuur om die oorsaak van die ongeluk te bepaal. Volgens die RTMC was die bus onderweg van Kaapstad na Johannesburg toe dit omgeslaan het. Volgens die korporasie is 66 passasiers in die ongeluk beseer en na nabygeleë mediese fasiliteite vervoer.
Die RTMC het benadruk dat die ondersoek nog aan die gang is en dat geen gevolgtrekkings oor die oorsaak van die ongeluk gemaak sal word voordat alle beskikbare getuienis ondersoek is nie. Motoriste word gemaan om uiters versigtig op die N1 tussen Trompsburg en Edenburg te bestuur, hul snelheid te verminder en vir aansienlike vertragings voorsiening te maak. Verkeersbeamptes het verkeer waar moontlik herlei en padgebruikers is aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik.
Die departement van gesondheid en die RTMC het hul medelye aan die families van die oorledenes betuig en die beseerdes ’n spoedige herstel toegewens.







