NOORDWES. – Jaco de Lange, ‘n gr. 10-leerling van Hoërskool Fochville, is in ‘n ongeluk oorlede en sy broer, Chris, beseer. Jessica, wat glo Jaco se stiefsussie is – ‘n gr. 3-leerling van Laerskool Losberg – is in dieselfde ongeluk beseer en haar ma, Melanie van Eck, is ook oorlede.
Nicky Knoetze het op sosiale media gevra dat mense vir Chris, Jaco se jonger broer, bid: “Ons vra met hartseer in ons harte dat die Here klein Chris sal aanraak. Hy is deur genoeg die laaste paar dae wat geen kind hoef te verduur nie. Hy’t sy ouboet en ‘n ma-figuur verloor in ‘n wrede ongeluk en nou is hy baie siek/ beseer in die hospitaal. Ons bid vir genesing vir sy beserings en vertroosting vir sy kinderhartjie. Here, U ken sy behoeftes en dié van sy gesin. Raak hul aan asb. en wees vir hul die lig en uitweg wat hul nou sooo nodig het.”
Leonie Austin, wat BackaBuddy-insamelingsveldtogte vir Jaco sowel as Melanie begin het, doen ’n beroep op die gemeenskap om met begrafniskostes te help, indien moontlik.
Hoërskool Fochville het Jaco se heengaan met hartseer betreur en hom as ’n geliefde leerling beskryf. Die skoolgemeenskap het ook sy medelye met Jaco se familie en naasbestaandes betuig.
Laerskool Losberg het op 2 Augustus bevestig dat Jessica saam met haar gesin in ’n ernstige motorongeluk betrokke was. Die skool het gesê Jessica het ernstige beserings opgedoen en het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om vir haar volkome herstel en vir krag en vertroosting vir haar familie te bid. Sy is tans in die intensiewesorgeenheid in die Alberton Netcare-hospitaal opgeneem: “Ons vra vir julle gebede en ondersteuning – Dit is met groot hartseer dat ons deel dat ons graad 3-leerder, Jessica, saam met haar gesin in ‘n ernstige motorongeluk was. Jessica het ernstige beserings opgedoen en haar geliefde mamma het tragies in die ongeluk gesterf. Ons harte gaan uit na Jessica, haar familie en almal wat deur hierdie groot verlies geraak is. Ons vra dat julle haar en haar familie in julle gebede sal opdra. Bid asseblief vir Jessica se volkome herstel, vir krag en vertroosting en dat God hulle deur hierdie ongelooflike moeilike tyd sal dra. As Losberg-familie staan ons saam in gebed, liefde en ondersteuning. Hou asseblief vir Jessica en haar familie in julle gedagtes en gebede.”









