GAUTENG. – Twee gewelddadige voorvalle by en naby openbare skole word ten sterkste veroordeel, nadat skote by ‘n skool in Alexandra en buite ‘n skool in Waverley geskiet is.
Onwabile Lubhelwana, woordvoerder van die LUR vir onderwys, sport, kuns, kultuur en ontspanning, sê gewapende verdagtes het glo tydens ‘n roof Laerskool Iphutheng in Alexandra betree, waar waarskuwingskote geskiet is. Een leerling is hospitaal toe geneem. Die polisie ondersoek die voorval.
By Waverley Girls’ High School het ‘n beweerde kaping naby die skoolhekke plaasgevind. Verdagtes het glo skote in die lug geskiet, voordat hulle gevlug het. Leerlinge is deur die gebeure getraumatiseer.
Die departement sê traumaberading is aan die betrokke skole beskikbaar gestel, terwyl ondersoeke na albei voorvalle voortduur.





