WES-KAAP. – Die polisie het op sowat 26 000 Mandrax-tablette met ‘n geskatte straatwaarde van R1,3 miljoen tydens ‘n klopjag in Lawaaikamp, George, beslag gelê. ‘n Man (42) is op ‘n aanklag van dwelmhandel in hegtenis geneem.
AO Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê lede van die Conville-misdaadvoorkomingseenheid en die Outeniqua K9-eenheid het Woensdagmiddag ‘n deursoekingslasbrief by ‘n woning in Potsolo Notyeke-singel, Lawaaikamp, uitgevoer nadat inligting ontvang is. Dwelms is in ‘n boks met ‘n koeriermaatskappy se logo op, gevind, asook dwelms in sakke in ‘n stukkende kisvrieskas op die perseel. Die Wes-Kaapse eenheid vir georganiseerde misdaad ondersoek die saak, terwyl daar vermoed word dat die dwelms vir verspreiding in die streek bestem was.
Die verdagte sal na verwagting Vrydag in die Thembalethu-landdroshof verskyn.





