KWAZULU-NATAL. – Die DA sê die swak toestand en gebrekkige sekuriteit by die polisie se motorhawe in Durban maak dit moontlik vir misdadigers om by die terrein in te breek en uit polisievoertuie te steel.
Ofentse Mokae, DA-LP en lid van die nasionale raad van provinsies se gekose komitee oor veiligheid en justisie, sê die motorhawe huisves meer as 250 voertuie wat op onderdele of herstelwerk wag. Volgens hom plaas die sentralisering van die herstelstelsel en swak samewerking van diensverskaffers verdere druk op ‘n reeds oorlaaide werkswinkel.
Die DA voer aan dat die probleme die herstel van polisievoertuie vertraag en die polisie se vermoëns om gemeenskappe doeltreffend te bedien, benadeel. Die party sê hy sal die kwessie later vandeesmaand met die waarnemende minister opneem en aanspreeklikheid eis.







