WES-KAAP. – Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling bestee R12,995 miljoen aan die Sanitary Dignity Project, wat daarop gemik is om meisieleerlinge toegang tot noodsaaklike sanitêre produkte te gee en te voorkom dat hulle weens ’n gebrek daaraan skool mis.
Wendy Kaizer-Philander, DA-woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, sê geen meisie behoort skool te mis omdat sy nie sanitêre produkte kan bekostig nie. Die program bereik tans 189 998 meisieleerlinge by 715 openbare skole regoor die provinsie. Dit help om leerlinge se welstand en gesondheid te ondersteun, terwyl dit hulle in staat stel om met waardigheid en selfvertroue opleiding te ondergaan. Sy sê die verskaf van toegang tot produkte vir menstruele higiëne help om hindernisse tot onderwys uit die weg te ruim en meisies die geleentheid te gee om op hul opleiding en toekoms te fokus.
Die DA sê die befondsing vir die 2026/27-boekjaar toon die provinsiale regering se voortgesette fokus op die welstand en toekoms van jong vroue.





