VRYSTAAT. – ’n 24-jarige man, die stiefpa van ’n 4-jarige seun is, is in hegtenis geneem in verband met die beweerde moord op die kind in Malebogo, Hertzogville. Sy liggaam is toegedraai in ‘n begraafplaas aangetref.
Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die polisie het Maandag op ‘n klagte by die Ou Begraafplaas in Malebogo gereageer nadat die liggaam van ’n kind met ernstige kopbeserings daar gevind is. Die liggaam was in komberse en gordyne toegedraai. Forensiese deskundiges van die plaaslike kriminele rekordsentrum (PKRS) in Welkom het die toneel vir leidrade gefynkam. ’n Moordsaak is geopen en die polisie het met ’n voorlopige ondersoek begin.
Tydens die ondersoek is die kind as Malebogo geïdentifiseer. Die polisie het ook die adres in Hertzogville besoek waar bloedbevlekte dele van die komberse en gordyne, asook klere wat vermoedelik aan die seuntjie behoort het, gevind is.
Die 24-jarige stiefpa is daarna as verdagte in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting vandag in die Hertzogville-landdroshof verskyn.





