Studie wys negatiewe emosies word op sosiale media versterk

Lees ook :

Foto: Universiteit Stellenbosch

WES-KAAP. Negatiewe emosies kan deur herhaalde interaksie op sosiale media versterk word, veral onder mense wat reeds met depressie-verwante gevoelens worstel.

Dit is een van die belangrikste bevindings van ’n studie deur dr. Kurt Marais, ’n dosent in die departement logistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US), wat meer as 12 000 plasings uit ’n depressie-gefokusde Reddit-gemeenskap oor 56 dae ontleed het.

Marais het ondersoek ingestel na hoe mense oor hul emosies praat, hoe hulle op ander gebruikers reageer en hoe soortgelyke emosionele inhoud binne aanlyn gemeenskappe versprei.

Volgens hom was daar duidelike tekens van sogenaamde “emosionele versterking”. Dit gebeur wanneer twee mense met soortgelyke negatiewe gevoelens aanhou om met mekaar te kommunikeer en dié gevoelens deur herhaalde interaksie versterk.

“As twee mense byvoorbeeld albei negatiewe inhoud plaas, is hulle geneig om dit meer gereeld en langer te doen en sodoende daardie emosies te versterk,” het Marais gesê.

Die effek was volgens die studie sterker by gebruikers met depressie-verwante emosies as by mense wat positiewe emosies gedeel het.

Die navorsing het ook interessante patrone uitgewys oor wanneer gebruikers aktief is. Plasings het op Maandae en Dinsdae toegeneem, terwyl minder plasings op Saterdae gemaak is.

Gebruikers was ook opvallend meer aktief tussen 22:00 en 05:00.

Volgens Marais ondersteun dié bevinding vorige navorsing wat daarop dui dat mense met depressie geneig kan wees om snags meer aktief op sosiale media te wees.

Meer as 12 000 plasings ontleed

Marais het 12 133 unieke Reddit-plasings ontleed. Die gemiddelde plasing was 178 woorde lank.

Hy het bevind dat gebruikers dikwels geskryf het oor hoe hulle voel en oor hul begeerte om anders te voel as wat hulle op daardie stadium ervaar.

Woorde wat gereeld voorgekom het, het onder meer met gevoelens, lewe, denke en depressie verband gehou.

As deel van die studie het Marais ook ’n depressie-spesifieke gevoelsleksikon ontwikkel. Dit is ’n gestruktureerde woordelys wat gebruik kan word om depressie-verwante emosionele taal in teks te identifiseer.

Volgens hom het dié hulpmiddel meer akkuraat gevaar as algemene gevoelsontledingsgereedskap en sekere groot taalmodelle wat op geestesgesondheidsinhoud afgerig is.

Die leksikon het ook goed gevaar wanneer plasings oor ander geestesgesondheidstoestande, waaronder angs en posttraumatiese stresversteuring, ontleed is.

Negatiewe inhoud kan oor tyd verdiep

Marais het die bevindings uit Reddit verder gebruik om ’n simulasiemodel van interaksies op Twitter, nou X, te ontwikkel.

Die doel was om te ondersoek hoe geestesgesondheidsverwante inhoud binne ’n sosiale netwerk versprei en hoe gebruikers mekaar oor tyd kan beïnvloed.

Volgens die studie het herhaalde blootstelling aan soortgelyke negatiewe emosionele inhoud daartoe gelei dat dié emosies met verloop van tyd versterk en verdiep kan word.

Marais sê die navorsing kan onder meer navorsers en geestesgesondheidspraktisyns help om aanlyn ervarings van depressie beter te verstaan.

Dit kan ook sosialemediaplatforms help om gebruikers se welstand sterker in ag te neem wanneer algoritmes en digitale platforms ontwerp word.

Volgens die US beklemtoon die studie die belang daarvan dat geestesgesondheid reeds deel van die ontwerp van digitale platforms behoort te wees.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief