Danny K het op Instagram hulde aan sy vrou Lisa Koppel (41) gebring wat Maandag aan kolorektale kanker oorlede is en vir die eerste keer daar oor haar stryd met die siekte gepraat.
Volgens Danny K is Lisa is in November 2023 met kolorektale kanker gediagnoseer. Sy het die siekte met buitengewone krag en vasberadenheid aangepak en haar familie, vriende en die wêreld om haar met hoop en deursettingsvermoë geïnspireer. Sy het gekies om haar siekte privaat te hou en het nie simpatie of aandag gesoek nie. Haar fokus was volgens Danny K op haar kinders en om vir hulle ’n nalatenskap van onvoorwaardelike liefde en onskuld te laat. “Sy het ons geleer dat selfs in die moeilikste oomblikke die mens sag, nederig en merkwaardig dapper kan bly,” lui die verklaring.
Lisa laat haar man, Danny K, en hul drie kinders agter. Sy het ’n besonder hegte verhouding met haar kinders gehad en was diep geliefd deur haar familie en vriende. Die familie het gevra dat hul privaatheid en ruimte gedurende dié moeilike tyd gerespekteer word. “Ons vra vir gebede, deernis en privaatheid vir ons families terwyl ons hierdie verwoestende verlies hanteer.”
Lisa se nalatenskap sal volgens haar familie voortleef deur die liefde, vriendelikheid, nederigheid, moed en onwrikbare toewyding wat sy aan haar geliefdes betoon het.
Lisa het volgens haar man ook daarop aangedring dat meer mense bewus moet wees van kolorektale kanker en die belangrikheid van vroeë opsporing. Danny K sê hulle sal nou voortgaan met dié bewusmakingspoging in haar naam. Volgens sy plasing kom kolorektale kanker toenemend onder jonger mense voor. Daar word verwys na huidige riglyne wat roetine-sifting vanaf die ouderdom van 45 aanbeveel vir mense met ’n gemiddelde risiko, terwyl aanhoudende simptome altyd met ’n dokter bespreek en behoorlik ondersoek moet word.
Danny K het ook gedeel dat meer inligting oor kolorektale kanker en sifting by die CANSA se hulplyn, 0800 22 66 22 gekry kan word.






