KANADA. – ’n Porter Airlines-vlug is gekanselleer nadat ’n jong kind herhaaldelik geweier het om tydens die opstyg ’n veiligheidsgordel te dra, wat die loods gedwing het om na die terminaal terug te keer.
Porter het in ’n verklaring aan Global News gesê die vliegtuig het op 6 Augustus reeds van die hek vertrek en was op pad na die aanloopbaan vir die vlug na Toronto toe die kind opgestaan en geweier het om die veiligheidsgordel vas te maak.
Die vertraging het beteken dat die vlug nie kon vertrek voordat die aanloopbaan ná middernag gesluit het nie. Passasiers moes gevolglik vir ’n vlug die volgende dag herbespreek word.
Oor die kind se gedrag het Porter Airlines gesê: “Pogings deur die ouer wat die kind vergesel het en die bemanning om die situasie te hanteer, was onsuksesvol.”
“Die vliegtuig kon nie in hierdie onveilige toestand opstyg nie. Die bemanning het daarom besluit om na die terminaal terug te keer en die twee passasiers te laat afklim,” het die lugredery bygevoeg.
Lia Tuso, ’n kenner op die gebied van kinders se veiligheid in vliegtuie, het aan die BBC gesê die Porter-bemanning het met hul besluit om die vlug te stop, die veiligheid van die passasiers én die kind beskerm.
“Kinders wat nie vasgegespe is nie, kan soos projektiele deur die lug geslinger word,” het Tuso gesê. Dit is soortgelyk aan onvasgemaakte bagasie, wat tydens turbulensie, veral tydens opstyg en landing, passasiers kan tref.
Bronne: Global News, BBC





