GAUTENG. – Vyf jongmense is Maandag in Westbury geskiet, van wie drie dood en twee kritiek beseer is. Een van hulle is ‘n leerling van Sekondêre Skool R.W. Fick. Lebogang Maile, LUR vir onderwys, sport, kuns, kultuur en ontspanning, het sy kommer uitgespreek oor die impak wat die voortslepende bendegeweld op leerlinge, onderwysers en die skoolgemeenskap het.
Onwabile Lubhelwana, woordvoerder van die departement, sê die omstandighede van die skietery word steeds deur die polisie ondersoek en die departement wil nie voor die tyd oor die motief bespiegel nie. Volgens hom handhaaf die polisie, insluitend die teen-bende-eenheid, steeds ‘n sigbare teenwoordigheid in die gebied. Die geweld het volgens Lubhelwana reeds onderrig ontwrig, met sommige leerlinge wat nie hul skoolgebaseerde assesserings of voorbereidende eksamens kon skryf nie. Die departement het egter verseker dat hierdie leerlinge later ‘n geleentheid sal kry om die vraestelle te skryf, sodat niemand akademies benadeel word nie.
Sielkundige ondersteuning vir geraakte leerlinge, onderwysers en gesinne word deur die Teddy Bear Foundation, gebied. Leerlinge en ouers kan ook Childline se 24-uur hulplyn by 116 bel. Skoolveiligheidspanne en distriksbeamptes monitor voorts daagliks die situasie by geraakte skole, terwyl die departement kommer uitspreek oor moontlike vergeldingsgeweld in die gemeenskap. “Ons doen ‘n beroep op ouers en gemeenskappe om ons kinders en skole teen geweld te beskerm,” het Maile gesê.




