GAUTENG. – ’n Onderwyser van Hoërskool Minerva is voorlopig geskors nadat bewerings van seksuele teistering van ’n 17-jarige gr. 12 leerling gemaak is.
Onwabile Lubhelwana, woordvoerder van die Gautengse LUR vir onderwys, sport, kuns, kultuur en ontspanning, sê die bewerings hou verband met onvanpaste kommunikasie tussen die onderwyser en leerling wat volgens rapportering gedurende Junie begin het met onder meer kommunikasie op WhatsApp en ander interaksie. Die saak is vir ondersoek na die Johannesburg-Oos-distrik verwys. Die onderwyser is voorlopig hangende ’n formele ondersoek geskors, terwyl die betrokke leerling psigososiale ondersteuning ontvang.
Onderwys by die skool is Dinsdag ontwrig nadat sommige leerders glo verhinder is om die skoolterrein te betree. Distriksbeamptes, die skoolbestuurspan en die polisie het ingegryp om die situasie te stabiliseer. Die departement het ’n beroep op alle betrokkenes gedoen om die ondersoek toe te laat om behoorlik voort te gaan, terwyl onderrig en leer by die skool voortgesit word.





