AUSTRALIË. – Meer as 60 sterftes in Australië is aangemeld met ’n moontlike verband met gewigsverliesmiddels soos Ozempic, Wegovy en Mounjaro. Gesondheidsowerhede beklemtoon egter dat dit nie beteken dat die middels die sterftes veroorsaak het nie.
Volgens nuwe data is 62 sterftes en meer as 2 800 nadelige reaksies aangemeld, wat moontlik met dié middels verband hou. Dit sluit onder meer naarheid, pankreatitis, selfdoodgedagtes en ’n seldsame oogtoestand in wat tot permanente sigverlies kan lei. Hierdie middels behoort aan die GLP-1-groep en word gebruik vir die behandeling van onder meer tipe 2-diabetes en vetsug. Die Australian Therapeutic Goods Administration (TGA) beklemtoon dat aangemelde reaksies nie noodwendig bewys dat ’n spesifieke middel die oorsaak was nie.
TGA het onlangs sy veiligheidsinligting oor GLP-1-middels opdateer en waarsku mense om dringend mediese hulp te kry indien hulle skielike sigverlies ervaar. Die owerheid waarsku ook teen vervalste of ongeregistreerde gewigsverliesmiddels en maan mense om slegs voorskrifmiddels van geregistreerde apteke te bekom.
Bronne: TGA, Herald Sun, ABC Australia, 7 News Sydney en 9 News Queensland





