Die Suid-Afrikaanse reguleringsowerheid vir gesondheidsprodukte (Sahpra) het vier groepe Enalapril 10 mg Arya herroep. Dit is ’n middel wat algemeen gebruik word om hoë bloeddruk te behandel.
Volgens Sahpra word die pille herroep nadat toetse tydens ná-bemarkingsinspeksies resultate buite die vereiste gehaltestandaarde spesifikasies getoon het. Sahpra het die terugroeping as ’n Klas II-tipe A geklassifiseer.
Pasiënte wat Enalapril 10 mg Arya gebruik, word aangeraai om die lotnommer op hul verpakking na te gaan. Indien dit een van die betrokke groepe is, moet hulle hul apteker of gesondheidspraktisyn raadpleeg oor ’n moontlike alternatiewe middel. Pasiënte moenie op eie houtjie ophou om hul bloeddrukmedikasie te gebruik nie en moet eers met ’n dokter, apteker of ander gesondheidspraktisyn praat.
Sahpra beklemtoon dat die terugroeping slegs op die vier geïdentifiseerde groepe van toepassing is. Apteke, groothandelaars en ander verskaffers moet die betrokke voorraad onmiddellik identifiseer, dit van verkope en verspreiding onttrek, afsonder en volgens die terugroepinstruksies terugstuur.
Kyk hier onder watter groepe geraak word. Druk hier om meer te lees.






