OOS-KAAP. – ’n Polisiekonstabel wat van diens af was, het ongedeerd daarvan afgekom nadat hy Maandagaand tydens ’n roof by ’n gastehuis in Mount Croix, Gqeberha, ontvoer is.
Kol. Siphokazi Mawisa, polisiewoordvoerder, sê drie onbekende verdagtes het omstreeks 23:30 die gastehuis in Buckinghamweg binnegegaan en inwoners van hul besittings beroof, nadat hulle glo nie kontant gekry het nie. Die verdagtes het toegang tot die kamers geëis en onder meer inwoners se besittings en ’n televisiestel gebuit. Hulle het mettertyd besef een van die inwoners is ’n polisiebeampte. Hulle het hom van sy besittings beroof, hom vasgebind en geblinddoek en daarna met hom in hul voertuig weggery.
Die konstabel is later vrygelaat en ontvang die nodige ondersteuning ná die traumatiese voorval. ’n Ondersoekspan is saamgestel om die verdagtes op te spoor. Die motief en omstandighede van die voorval word ondersoek. Enigiemand met inligting word gevra om navore te kom.





