STOCKHOLM. – Een persoon is dood en verskeie beseer nadat ‘n man Vrydag hoërskoolleerlinge in Sentraal-Swede met ‘n swaard aangeval het.
Volgens die BBC is die polisie kort ná 14:00 plaaslike tyd na die Brinell-skool in Fagersta ontbied. ‘n 18-jarige man is daar in hegtenis geneem. Volgens die polisie het beamptes op die verdagte geskiet voordat hy in hegtenis geneem en aangehou is. Sy identiteit is nog nie bekend gemaak nie.
Twee tienerseuns is ernstig in die aanval beseer, terwyl ‘n ander persoon ligte beserings opgedoen het.
Agt ander skole in die gebied is ná die aanval in ‘n staat van inperking geplaas. Die maatreël is later opgehef.
Die Sweedse openbare uitsaaier het berig dat die verdagte ‘n valhelm gedra het. Plaaslike media het verder berig dat hy ‘n voormalige leerling van die skool was.
Bronne: BBC, Sky News





