NOORDWES. – ’n Man (51) is in hegtenis geneem nadat ’n 89-jarige vrou op Vrydag 21 Augustus 2026 by haar huis op Bloemhof aangeval en later oorlede is.
Kapt. Majang Skalkie, polisiewoordvoerder, sê in ’n verklaring, die vrou se seun het na haar huis gegaan om te kyk hoe dit met haar gaan. Met sy aankoms het hy ’n onbekende man in die kombuis gekry. Die man het glo gesê hy werk vir sy ma.
Hy voer verder aan toe die seun vra waar sy ma is, het die man gesê sy het by die bure gaan kuier. Die seun het na die bure gegaan om haar te soek, maar hulle het gesê sy is nie daar nie. Intussen het die onbekende man die eiendom verlaat.
Die seun het teruggegaan huis toe en aangehou soek. Hy het sy ma in ’n agterkamer met veelvuldige beserings aangetref.
Die seun het dadelik ‘n ambulans gebel, en sy ma is na ’n plaaslike hospitaal geneem. Sy is later na ’n hospitaal in Vryburg oorgeplaas, waar sy aan haar beserings beswyk het.
Met die hulp van gemeenskapslede is die 51-jarige man kort ná die aanval opgespoor en gevang. Hy word op ’n aanklag van moord aangekla en verskyn na verwagting Maandag 24 Augustus 2026, in die Bloemhof-landdroshof.
Die Provinsiale Kommissaris van Noordwes, lt. genl. Arthur Adams, het die polisielede geprys vir hul vinnige optrede en die spoedige arrestasie. Hy het sy opregte simpatie met die familie en vriende van die oorledene uitgespreek, en gesê hy sal seker maak die dader voel die volle gewig van die wet vir so ’n sinnelose daad teen ’n kwesbare, bejaarde persoon.





