HEIDEDAL. – Die Vrystaatse anti-korrupsie-ondersoekeenheid is vasberade om korrupsie en professionele wangedrag binne sy geledere uit te roei en het drie lede met dagvaardings bedien ná ’n voorval in Heidedal.
Twee polisielede het Saterdag 27 September 2025 op ’n diefstalklag by ’n plaaslike drankwinkel in Heidedal gereageer waar twee verdagtes deur die veiligheidswagte aan hulle oorhandig is. Een van die verdagtes is as ’n mede-SAPD-lid verbonde aan Misdaadintelligensie geïdentifiseer.
Lees ook: Vier polisielede op aanklag van roof in hof
https://nuusflits.com/vier-polisielede-op-aanklag-van-roof-in-hof/
Na bewering kon die verdagte beampte voor sit terwyl die veiligheidswag (die klaer) agter in die polisiebakkie geplaas is. Die tweede verdagte is toegelaat om met sy eie voertuig na die polisiestasie te ry.
Die klaer het ‘n verklaring afgelê en die verdagtes is na die selle geneem, maar is nie amptelik aangehou nie. Geen strafsaakdossier is geopen nie.
Die insident is die volgende oggend 28 September 2025 ontdek, waarna die saak geregistreer en die oorspronklike diefstalverdagtes in hegtenis geneem is.
Na verwagting sal al drie lede op 4 April 2026 vir die eerste keer in die Batho-landdroshof verskyn op aanklagtes van verydeling van die regsproses en medepligtigheid.
Die Vrystaatse provinsiale kommissaris, lt.genl. Thabang Lesia, het sy teleurstelling uitgespreek en ’n duidelike waarskuwing aan polisielede gerig.
“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens bly verbind tot ’n nul-verdraagsaamheidsbenadering teen enige vorm van korrupsie. Ons sal nie huiwer om beslissende optrede te neem teen enige lid wat kies om hulself met misdadigers te vereenselwig eerder as met die burgers wat hulle gesweer het om te beskerm nie.”
Bron: Suid-Afrikaanse Polisiediens
Foto: Ter voorstelling, KI-ontwerp