WES-KAAP. – Vier polisielede – Jacobus Adriaan Gronewald (44), Bradley Dimitri Minnaar (28), Mthuthuzeli Mafanya (33) en Bathandwa Soldati (38) – sal op 10 Oktober vir hulle borgtogaansoek in die Wynberg-landdroshof verskyn.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die vierstuks het Donderdag op ‘n aanklag van roof met verswarende omstandighede in die hof voorgekom.
“Drie van die beskuldigdes was veronderstel om vir borgtog aansoek te doen, maar dit kon nie gebeur nie, aangesien Soldati gister by die dossier gevoeg is. Soldati moet sy regsverteenwoordiger instruksies gee en verder met hom konsulteer voordat daar vir borgtog aansoek gedoen kan word.”
Kapt. Frederick van Wyk sê die vier het op ‘n korrupsieklag in die hof verskyn, nadat hulle oor ‘n tydperk gearresteer is. ‘n Saak van ‘n huisroof op 14 September by ‘n buitelander van Sunsetlaan, Llandudno, is by die Houtbaai-polisie aangemeld en vir verdere ondersoek na die provinsie se teen-korrupsie-eenheid oorgeplaas. Polisiebeamptes het na bewering die huisroof gepleeg.
‘n Sersant (44) is dieselfde dag by Squadron 35, in Belhar, en ‘n konstabel (28) later die dag by die Gugulethu-polisiestasie in hegtenis geneem, waarna hulle drie dae later in die hof verskyn het. Die saak is tot 23 September uitgestel en weer tot 3 Oktober sodat hulle vir borg aansoek kan doen.
Van Wyk sê nog ‘n sersant is na verdere ondersoek op 19 September by die Bellville-polisiestasie gearresteer. Hy het saam met die ander sersant en konstabel op 23 September in die hof verskyn.
Op 2 Oktober is nog ‘n sersant (38) by Philippi-polisiestasie in hegtenis geneem nadat hy met vingerafdrukke aan die misdaadtoneel verbind is. Hy is by die Wynberg-polisieselle aangehou en het die volgende dag saam met die ander drie verdagtes in die hof voorgekom.
Al vier die verdagtes sal op 10 Oktober weer saam in die Wynberg-landdroshof verskyn.
Lt.genl. Thembisile Patekile het die ondersoekspan vir die arrestasies geprys: “Laat dit as ‘n waarskuwing dien vir diegene wat dink hulle kan die hulpbronne van die staat vir hul skandelike doeleindes misbruik,” het hy gesê.





