WES-KAAP. – Ernstige vrae oor die bestuur en werksomgewing by die Prince Alfred Hamlet-polisiekantoor is volgens Ian Cameron, parlementslid en DA-woordvoerder oor polisiesake, steeds ná meer as drie maande onbeantwoord.
Cameron sê hy het op 8 Mei formeel kommer uitgespreek oor bewerings van viktimisasie, intimidasie, boeliegedrag in die werkplek en magsmisbruik by die stasie. Meer as 30 beweerde griewe teen sommige bestuurslede is ook genoem, met vrae oor die moontlike impak daarvan op personeel se moraal, welstand en dienslewering aan die gemeenskap.
Cameron het aanvanklik ’n antwoord teen 15 Mei versoek. Die polisie het egter vir uitstel gevra, wat toegestaan is. ’n Onderneming is gemaak dat ’n verslag teen 11 Junie voorgelê sou word. Volgens Cameron het geen verslag gevolg nie. Hy het die saak persoonlik op 4 Junie, 17 Junie en weer op 14 Julie opgevolg. Hy wou onder meer weet hoeveel griewe ingedien is, of dit behoorlik ondersoek is, watter maatreëls ingestel is om klaers teen vergelding te beskerm en of die provinsiale bestuur die werksomgewing en stasie se prestasie beoordeel het.
Cameron sê voorts die polisie se nasionale hoofkantoor het intussen ook herhaaldelik antwoorde van die Wes-Kaapse provinsiale bestuur gevra. Op 22 Julie het die nasionale bestuur aangeteken dat die saak reeds in Mei na die provinsie verwys is, dat uitstelle toegestaan is en dat daar steeds geen antwoord is nie.
Die provinsie is daarna opdrag gegee om die saak dringend te ondersoek en binne drie werksdae ’n omvattende verslag voor te lê. Volgens Cameron is dié sperdatum ook nie nagekom nie. Die nasionale hoofkantoor het nou weer ’n herinnering aan die provinsie gestuur en die saak as “lank uitstaande” beskryf, met ’n versoek dat die antwoord dringend versnel word.
Cameron sê die kwessie gaan nie daaroor om oor die waarheid van die bewerings te beslis nie, maar oor die vraag of senior polisiebestuur klagtes oor boeliegedrag, viktimisasie en ’n swak bevelsklimaat ernstig genoeg opneem om dit behoorlik te laat ondersoek en verantwoording te doen. Hy vra ook watter kans ’n gewone polisiebeampte het om gehoor te word indien ’n provinsiale bevel herhaalde parlementêre toesigversoeke en selfs opdragte van die polisie se nasionale hoofkantoor kan ignoreer.
Cameron sê die geraakte polisiebeamptes en die gemeenskap wat deur die stasie bedien word, verdien ’n behoorlike antwoord. Hy het aangedui dat hy sal voortgaan om die saak op te volg en waar nodig relevante besoeke en parlementêre uitnodigings te reël.