Brekende Nuus
Misdaad

Tembisa-hospitaalsaak: Verdagte kry R200 000 borgtog

Foto: SOE

GAUTENG. – Stefan Joel Govindraju (37) het Maandag sy eerste verskyning in die Johannesburgse gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Palm Ridge verskyn in verband met die beweerde R635 miljoen-Tembisa-hospitaalsage. Hy is onderhewig aan voorwaardes op R200 000 borgtog vrygelaat.

Kaizer Kganyago, NVG-woordvoerder, sê Govindraju staan op 70 aanklagte van bedrog, diefstal, geldwassery en korrupsieverwante oortredings tereg. Die staat beweer Govindraju was tussen Januarie 2020 en April 2023 die uiteindelike eienaar van verskeie maatskappye wat verkrygingskontrakte by Tembisa-hospitaal en die Gautengse departement van gesondheid bekom het. Die staat beweer dat hy verskeie maatskappye gebruik het om die indruk te skep dat kontrakte deur ’n regverdige en mededingende proses toegeken is, terwyl dit volgens die bewerings nie die geval was nie. Die staat beweer ook dat bedrieglike en nie-voldoenende dokumente saam met kwotasies ingedien is en dat sekere entiteite betalings ontvang het vir goedere en dienste wat na bewering nie wettig gelewer of verskaf is nie.

Volgens die klagstaat het die beweerde optrede die Gautengse departement van gesondheid, Tembisa-hospitaal, die nasionale tesourie en uiteindelik Suid-Afrikaanse belastingbetalers met meer as R583 miljoen benadeel. Die staat beweer verder dat Govindraju meer as R41 miljoen aan voormalige Tembisa-hospitaalbeamptes betaal het in ruil vir hul inmenging in verkrygings- en voorsieningskettingbestuursprosesse.

Tydens die borgtogverrigtinge het die hof bevind dat Govindraju die onus gehad het om aan te toon dat die belange van geregtigheid sy vrylating op borgtog toelaat. Die hof het hom daarna R200 000 borgtog toegestaan, onderhewig aan voorwaardes. Die saak is vir pleit- en vonnisverrigtinge tot 29 September uitgestel.